Johanniter Haus - Die ou Klip Hospitaal - Keetmanshoop
- Keetmanshoop
Johanniter Haus - Die ou Klip Hospitaal
Source - Die Republikein
Die ou hospitaal op Keetmanshoop wat deur die Johanniter Orde gebou is, vier sy 100ste bestaansjaar.
Die gebou huisves vandag die kantore van die Ministerie van die Omgewing en Toerisme.
Die perseel waar die ou hospitaal gebou is, is op 10 Junie 1912 deur die Kroon aan die gemeenskap van Keetmanshoop verkoop. Dit volg nadat die Johanniter Orde reeds in 1908 versoek het dat die Duitse owerheid wat destyds in beheer van die land was, 'n hospitaal op dié dorp moes oprig.
In 'n opsomming oor die geskiedenis van die hospitaal, skryf dr. C. van der Colf dat die versoek aanvanklik gunstig ontvang is en dat keiser Wilhelm 'n vergadering bygewoon het waar besluit is dat die hospitaal op Bethanie opgerig moet word. Volgens hom het die militêre owerheid se keuse egter eerder op Lüderitz geval en het hulle die Johanniter Orde oortuig om 'n tydelike hospitaal daar op te rig totdat 'n permanente hospitaal gebou kon word. Die voorstel van 'n hospitaal op Bethanie was steeds op die tafel, maar uiteindelik het die voorstel gewen om die hospitaal op Keetmanshoop te bou.
'n Twintigbed hospitaal is beplan wat volgens die owerhede groot genoeg sou wees om die hele Suide te bedien.
Op 27 Julie 1912 is die perseel waar die ou hospitaal staan, aan die Johanniter Orde oorgedra.
Vir die oprigting van die hospitaal is 6 000 mark deur die inwoners van die dorp saam met die grond beskikbaar gestel. As deel van die voorwaarde van die skenking, vra die inwoners dat die hospitaal omhein moet word en dat tuine en parke aangelê moet word. Tot vandag toe is nie aan dié voorwaarde voldoen nie, sê Van der Colf.
Die hospitaal is in 1913 teen 'n koste van 120 000 mark voltooi.
"Dit is heel goedkoop in vergelyking met hedendaagse boukoste as in aanmerking geneem word dat die gebou uit klip gebou is wat aangery en gemessel moes word," skryf Van der Colf.
Volgens hom moes die volgende fase van die hospitaal inderhaas met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog begin en is die gemeenskap in 1918 deur die groot griepepidemie getref wat verdere uitbreiding genoodsaak het. Toe het die Unietroepe die gebied beset en was militêre personeel aangestel om dit te bestuur.
Volgens Van der Colf het die hospitaal ná die oorlog van die toneel verdwyn en is die bestuur daarvan deur die Hospitaalraad oorgeneem en deur die Suid- Afrikaanse regering gesubsidieer.
Dit kry in 1954 'n bykomende eenheid waar mense met aansteeklike siektes in afsondering gehou kan word.
"Daar was veral 'n vrees vir polio wat destyds 'n gedugte bedreiging was. Pokke is ook genoem as moontlike bedreiging vir die gemeenskap. Enkele jare later word 'n verpleegsterstehuis gebou, gedeeltelik deur die publiek gefinansier en deur die staat gesubsidieer," sê Van der Colf.
In 1959 bou die Katolieke Kerk die St. Joseph verpleeginrigting wat vir nog 12 pasiënte voorsiening maak.
Die hospitale word gebruik totdat die nuwe hospitaal langs die hoofpad na Suid-Afrika in 1984 geopen word.